Toewydingsweek

Ons toewydingsweek is 22-25 Januarie  o.l.v. Andries Kritzinger

Sondag 09:00 & 18:30
Ma-Wo 18:30


 


Hier volg inligting oor die Daniël vas asook die bybelstudies vir die week van toewyding vir persoonlike en gesins gebruik. (Miskien sien jy nie nou kans vir die vas nie, maar gebruik gerus die bybelstudie)


Ons tema vir die jaar as Melville Kruisgemeente, is GROEI – nader aan God, nader aan mekaar, nader aan die wêreld en nader aan onsself.  En om hierdie proses aan die gang te sit, wil ons graag die jaar begin met die Daniël vas.
Ons begin die vas op Maandag 27 Januarie en dit duur tot 5 Februarie. 



Wat is hierdie Daniël Vas?

In Daniël 1 lees ons dat Daniël en sy vriende besluit het om nie van die koning se kos en wyn te gebruik nie, en in :12 sê hy: "Maak asseblief tien dae lank 'n proefneming met ons en laat hulle vir ons net groente gee om te eet en water om te drink."  Na 10 dae het hulle gesonder gelyk as die ander jongmanne.  En in Daniël 10:3 sê hy: "Ek het die volle drie weke geen lekker kos geëet nie, my mond nie aan vleis of wyn gesit nie en geen reukolie gebruik nie."

Die Daniël Vas is 'n tyd van toewyding, om onsself sekere kosse te ontneem, met die uitsluitlike doel om nader aan die Here te groei. Om te vas is 'n geestelike dissipline – nie om God se arm te draai nie, maar sodat ons kan stilword voor Hom om te hoor wat Hy vir ons wil sê.  En deur so aan die begin van die jaar op diè manier onsself te verbind om die Here se teenwoordigheid te soek en na Sy stem te wil luister, help ons om te fokus op groei. Die doel is NIE om gewig te verloor nie!  Maar, as ons gesond eet, en baie water drink, raak ons liggame outomaties meer gesond.  Dit gaan ook nie daaroor om te wys hoe sterk ons wilskrag is nie!  Die doel is regtig om nader aan die Here te groei, en dit moet ons fokus bly.

Ons het gedink om net 'n 10 dae Daniël Vas te doen – dit kan ook oor 21 dae gedoen word (miskien volgende keer!)

Hoe lyk die dieet dan?

-      Vrugte en groente

-      Water

Dus geen verwerkte of kunsmatige kosse, of kos wat deur chemiese prosesse gegaan het nie. Geen diereprodukte nie, geen suiker, stroop, versoeters en heuning nie, geen alkohol nie.  Ook nie brood, of enige iets wat gis, bakpoeier of koeksoda bevat nie.

Dit is belangrik om mooi te dink oor die doel van jou vas.  Wat is jou grootste behoefte?  Waarvoor wil jy spesifiek bid in hierdie 10 dae?  Dalk vir jou huwelik, finansies, mense na aan jou vir wie jy in besonder aan die Here wil opdra in hierdie tyd, belangrike besluite wat jy moet neem.  En terwyl jy vas, maak tyd vir gebed en Bybelstudie.  Ons gaan vir jou spesifieke gedeeltes gee om jou elke dag te help met jou toewyding. Kry vir jou 'n gebedsjoernaal om jou gebede en gedagtes neer te skryf terwyl jy besig is met die vas.

Die vas het implikasies op jou liggaam – jy mag dalk onttrekkingsimptome ervaar van bv. Kafeïene, suiker ens.  Simptome soos kopseer, krampe, moegheid, selfs dalk naarheid – maar soos die liggaam gewoond raak daaraan, sal jy meer energie hê, beter slaap en beter konsentreer. Moenie sommer net opgee nie, druk deur. Jy mag dalk ervaar dat jou gees in opstand kom teen die verandering in jou dieet, ons is bederf met baie kosse wat nie altyd vir ons goed is nie, en dis die gemaklike kos – maar as jy kan aanhou en jou "cravings" oorkom, gaan dit die volgende worstelstryd met jou eie-ek net 'n bietjie makliker maak.

Hoe berei ek my voor vir die vas?

Soos ek gesê het, is dit goed om jou voor te berei op dit waarvoor jy spesifiek wil bid gedurende die vas, en met die Here daaroor te praat.  Maar dis ook goed om jou liggaam voor te berei. Begin voor die vas al bietjie sny aan die kafeïene, suiker, vleis en geprosseseerde kosse.  Moenie die aand voor die vas jou doodeet aan al jou gunsteling kosse nie!  Drink meer water om solank die gifstowwe te begin uitwerk.

Gedurende die vas:

Jy mag aan die begin dalk hongerpyne kry.  Drink genoeg water, dikwels verwar ons dors met honger.  Maak seker jy eet 3 maaltye en 'n "snack" tussen maaltye.  Maak spesifiek tyd om saam met die Here te wees, elke dag.  Dit gaan moeilik wees om nie in te gee en te oortree nie, maar probeer aan jouself wys jy kan!  Dis NET 10 dae….

So lyk die koslysie:

Alle vrugte – vars, gevries, gedroog, versap, of geblik.  As jy geblikte vrugte gebruik, maak seker daar is nie versoeter of preserveermiddels in nie.  Vrugte sluit in onder andere:  appels, appelkose, piesangs, bessies, kersies, vye, pomelos, koejawels, druiwe, waatlemoen, spanspek, papaja, kiwi, lemoen, suurlemoen, perskes, rosyne, prume, aarbeie  (Alle vrugte!)

Alle groente – vars, gevries, gedroog, versap of geblik – dieselfde reëls geld as vir geblikte vrugte

Groente sluit in onder andere: alle groen groente, artisjokke, aspersies, beet, broccoli, brusselse spruite, kool, wortels, blomkool, seldery, chili's, mielies, komkommer, brinjals, knoffel, gemmerwortel, prei, blaarslaai, sampioene, mosterd saad, uie, pietersielie, aartappels, radyse, spinasie, pampoen, patats, tamaties,

Alle volgrane,  onder andere Volgraan meel, bruinrys, quinoa, hawermout, volgraan pasta, volgraan tortillas, ryskoekies, springmielies, gars

Alle neute en sade, onder andere Sonneblomsade, kasjoeneute, grondbone, sesam sade.  Ook grondboonbotter sonder enige byvoegings

Alle bone geblik of gedroog.  As dit geblik is, maak seker daar is nie preserveermiddels of suikers gebruik nie

Onder andere gedroogde bone, pinto bone, split peas, lensies, black eyed peas, kidney beans, cannellini bone, wit bone

Drink:  Water

Ander: Soja sous, asyn, speserye, sout (seesout of Himalaya sout), kruie.

Kosse om te vermy tydens die Daniël Vas:

Alle vleis en diere produkte  bees, skaap, vark, hoender, vis, eiers

Alle melkprodukte  melk, kaas, room, botter, yoghurt

Alle versoeters suiker, heuning, stroop ens

Alle soet gebak

Alle verfynde en geprosesseerde kosse

Alle diepvetgebraaide kos

Alle vette – botter, margarien

Drinkgoed – koffie, tee, alkohol, koeldranke met versoeter in (anders as suiwer vrugtesap), energiedrankies

As jy medikasie gebruik, gaan asb voort om dit te gebruik tydens die vas!  Die vas behoort nie enige newe effekte op jou medikasie te hê nie, maar as jy twyfel, gesels asb met jou dokter.






http://www.melvillekruis.org.za/preke/Jan%202014%20Preke/Toewyding%202014.pdfhttp://www.melvillekruis.org.za/preke/Jan%202014%20Preke/Toewyding%202014.pdf

No comments:

Post a Comment

Note: only a member of this blog may post a comment.